Laat Vrugte, wat gereken word as C.M. van den Heever se beste roman, speel af op 'n plaas in eerste dekades van die twintigste eeu en handel oor die diep menslike verhaal van die boer genaamd Sybrand, sy seun Henning en ander karakters na aan Sybrand.
Sybrand is 'n hardvogtige man wat glo in harde werk om vooruit te kom, maar ten koste van medemenslikheid. Hy verneder sy vrou Betta sodat sy basies soos 'n huisbediende vir hom word en verder behandel hy sy seun Henning amper asof hy 'n slaaf op die plaas is.
Sybrand het geen simpatie met ander nabye familielede wat by hom aanklop om hulp nie, want hy glo dat hulle in hulle slegte geldelike posisie beland het as gevolg van luiheid - iets wat Sybrand geen tyd voor het nie.
Dit brand in Sybrand om 'n suksesvolle boer te wees en om die plaas uit te bou tot een van die grootstes en bestes in die kontrei. In sy hebsug en inhaligheid om sy doel te bereik, ontsien hy niks en niemand nie en alles draai net om homself. Hy word egter beperk deurdat die plaas in drie dele verdeel is na sy pa se dood. Hyself het een derde gekry om op te boer, sy ma het die ander derde gekry met lewensreg daarop, en sy suster het die res gekry. Van elke ding wat Sybrand of sy swaer Gert uit die grond haal, moet Sybrand se ma die helfte kry.
Dit is vir Sybrand 'n groot knelpunt in sy lewe dat hy nie toegang tot die hele plaas het nie, en hy is voortdurend besig met sluwe skemas om dit te probeer regkry.
Verder versleg sy verhouding voortdurend met sy seun, Henning. Sybrand het 'n stryd in sy onderbewustelike met die ouderdom wat hom inhaal, en dit is vir hom 'n steen des aanstoots as hy sien hoe Henning al meer liggaamskrag kry terwyl sy eie kragte besig is om af te neem.
Henning se eie stryd en rebellie teen sy pa se mishandeling word uitgebeeld en uitgebou, asook Henning en die buurdogter, Johanna se liefde vir mekaar. Hulle word egter verbied om mekaar te sien, want daar is 'n jarelange vete tussen Sybrand en haar pa.
Uiteindelik word Sybrand se stryd teen die mense om hom, asook sy boerdery se stryd teen die natuur, op 'n spits gedryf en word hy hard deur die siklus van die lewe gebuig en gedwing om tot ander insigte te kom.
C.M. van den Heever het die Hertzogprys vir prosa in 1942 ontvang vir Laat Vrugte.